GEEN GOEIE NUUS VIR AFRIKAANS – ATKV

“Die uitsluiting van Afrikaans as ’n inheemse taal in die voorgestelde Suid-Afrikaanse Tale-wet, is vir die ATKV ’n groot probleem.”

So sê mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging-groep. “Dis nie goeie nuus vir Afrikaans nie.”
Die voorgestelde 2011 wetsontwerp stel voor dat minstens twee amptelike tale deur die regering gebruik moet word. Tydens die onlangse openbare parlementêre sessies oor die Wet, was daar verskeie bekommernisse dat minstens twee tale nie voldoende is nie en dat minstens drie amptelike tale in die Wet ingeskryf moet word.
Ingekorte status
Die departement van Kuns en Kultuur het hul voorstel nou wel verander na drie tale toe, maar spesifiek bygevoeg dat twee van die drie tale dan “inheemse tale met histories ingekorte gebruik en status” moet wees.
“Dit kom neer op die flagrante uitsluiting van Afrikaans. Dit beteken die inkorting van bestaande regte wat miljoene Suid-Afrikaners benadeel,” het Gouws gesê.
Gouws erken dat die praktiese implemente­ring van die taalregte soos in die Grondwet vervat, moeilik is, maar dat daar opgehou moet word om bestaande regte weg te neem. “Ons moet met mekaar saamwerk om die bes werkbare en haalbare maniere te kry en te ontwikkel om die breë Suid-Afrikaanse samelewing se taalregte te bevorder.
“Die ATKV is van mening dat een Nguni-taal, een Sesotho-taal, Afrikaans en Engels, oor die langer termyn die mees praktiese benadering gaan wees.
“Ons moet almal saamwerk en goedgesindhede gebruik om die uitdaging aan te pak,” het Gouws gesê. “Die taalverskeidenheid in Suid-Afrika is een van ons nasionale bates en ons kan nie toelaat dat dit aanhoudend ingekort word nie.”

Bron:  vaalweekblad.com