DRIEJARIGE BENODIG LEWEROORPLANTING

Bankbesonderhede: Absa Tjekrekening: 1470158197 Takkode: 334547 Verwysingsnommer: F734 en die skenker se naam en van.

MEYERTON. – Al lyk Shantique van de Reede (3) op die oog af nie siek nie, is hierdie dogtertjie in ’n stryd tussen lewe en dood. Haar lewer funksioneer glad nie en sy moet dringend ’n leweroorplanting ondergaan wat die gesin derduisende rand uit die sak gaan jaag.

Shantique was volgens haar ma Jackie, ’n gesonde dogtertjie wat so nou en dan die gewone siektes soos verkoue gekry het. Sy het op 13 Mei siek geraak by die kleuterskool en groot hoeveelhede bloed opgebring. Haar ma het met haar dokter toe geneem, waar sy gehoor het dat Shantique se keel net geskeur het en dat dit normaal is onder jong kinders.

Die volgende dag was dit egter nog erger en dokters het verskeie toetse, asook ’n sonar gedoen. Hulle het met skok agtergekom dat sy lewer probleme het. Haar lewer het sedert geboorte nooit reg gewerk nie en funksioneer nou glad nie.

Sy is in die Sebokeng Hospitaal opgeneem en twee dae later na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oorgeplaas. Teen die tyd wat sy in die hospitaal opgeneem is, het haar lyfie reeds baie bloed verloor.

Shantique is gebore met ’n genetiese lewer disfunksie. Omdat haar lewer nie in ’n werkende toestand is nie, kan dit nie die bloedtoevoer hanteer nie, wat tot gevolg gehad het dat daar aartjies, soos spatare, in haar magie en longe begin ontwikkel het.

Dit het begin bars en dit is waarom sy soveel bloed begin opbring het. “Sy was ’n doodnormale kind. Een oomblik was sy nog piekfyn en die volgende oomblik sê dokters vir jou jou kind kan dalk doodgaan. Dit is werklik baie erg,” sê Jackie. Shantique het elke dag drie punte bloed ontvang en stadig maar seker beter begin lyk en kon op 25 Mei ontslaan word. Sy kort egter binne die volgende drie maande ’n leweroorplanting en is op ’n waglys geplaas. “Ek het nooit gedink sy sal so siek wees of dat so iets met ons kan gebeur nie,” sê Jackie.

Shantique is ’n regte klein vegtertjie. “Dit gaan goed tannie. Ek het bruin hare en groen ogies,” het Shantique skamerig oor die telefoon aan Vaalweekbad gesê.

Sy is tans onder haar ma se valkoë om te verseker dat sy nie te woelig is nie. Sy is nie op ’n mediese fonds nie en die staat betaal nie vir leweroorplantings nie.

Dit is finansiëel ’n moeilike tyd vir die gesin en daarom is familielede besig om ’n trust te stig om Shantique se lewe te probeer red.

“Ek wil net so graag hê my kleinkind moet gesond word,” sê ouma Marietjie.

Die totale koste van die operasie sal binnekort in Vaalweekblad bekend gemaak word vir diegene wat ‘n bydrae wil maak tot die groot operasie.

Die Van De Reede-gesin bedank elkeen wat hulle in die moeilike tyd bystaan.

Bron:  vaalweekblad.com