DIE GESKENK VAN KENNIS

ER24 Vaal-tak gee vanjaar die geskenk van kennis aan die gemeenskap. ‘n paar wenke wat jy gerus kan onthou, mens weet nooit wanneer jy jouself in ‘n noodsituasie bevind nie.

Dit amper daardie tyd van die jaar… feestyd! Almal is opgewonde oor die vakansie wat voorlê en wat is lekkerder as om bietjie weg te kom. Tog eindig die feesseisoen nie vir ons almal soos ons hoop nie en vele moet ‘n vriend of familielid aan die dood afstaan.

Vir vanjaar se feesseisoen wil ER24 Vaal-tak aan elkeen die geskenk van kennis gee. Kennis wat jou sal help in noodsituasies en heel moontlik ‘n lewe kan red. Elke personeellid van ER24 Vaal-tak gee hier ‘n wenk vir wat handig kan wees.

Victor Rademan en Eloïse Smith: wanneer dit kom by brandwonde is dit belangrik om die oorsprong vas te stel, dit te verwyder of die pasiënt elders te neem. Hou die wond so skoon as moontlik en gebruik kraanwater in plaas van yskoue water om die wond af te koel. Enigiets met ‘n oliebasis moet vermy word.

Marius Grobler, Peet van der Merwe en Zane Strydom se wenk: hou toesig oor jou kinders wanneer hulle swembad toe gaan. Indien ‘n persoon in die water gevind word, verwyder hom/haar en pas onmiddellik KPR (CPR) toe indien geen pols of asemhaling teenwoordig is nie.

As daar klein kinders in die huis is, hou jou oë oop vir enige verdrinkings in ‘n bad vol water, toilet, visdam, of tuinfontein. Belê gerus in ‘n basiese KPR-kursus!

Majula Naidoo se wenk: indien jy die vakansie vuurwerke gaan skiet, maak seker jy is op hoogte van die wetlike aspekte daarvan en hou ander mense en diere ingedagte. Toesig is nodig waar kinders jonger as 16 jaar teenwoordig is.

Ryno Strydom en Mageretha Eastes se wenk: tref die nodige reëlings indien jy gaan reis. Beplan jou roete vooraf, stop elke twee ure, rek jou bene en skep vars lug. Stop as jy moeg is en sorg dat daar genoeg ventilasie in die voertuig is. Maak seker jou voertuig is padwaardig en dat al die bande, insluitend die spaarwiel, in ‘n goeie toestand is. Jamie Ramcharan en Craig Harry se wenk: wees versigtig vir die son. Die son is tussen 12:00 en 15:00 op sy warmste.

Drink genoeg water en moenie ‘n maaltyd mis nie. Gebruik ‘n goeie sonbrandmiddel en onthou ‘n hoed! Elmarie van Staden en Henry Horne se wenk: dit is hoogs onverantwoordelik om nie kinders vas te gordel wanneer jy ry nie.

As jy jou kind voor op jou skoot laat sit, vervang die kind basies die werk van die lugsak en jou hele gewig sal die kind druk tot teen die paneelbord wat noodlottige gevolge kan hê.

André Bronkhorst se wenk: een of ander tyd sal jy die eerste persoon wees wat op ‘n ongelukstoneel afkom.

Dit is ontsettend belangrik om nie enige persoon uit ‘n wrak te probeer help indien jy nie die nodige kennis of toerusting het nie. Diegene met nek- en rugbeserings kan erg benadeel word.

Al wanneer jy ‘n persoon kan uithelp, is wanneer die voertuig aan die brand is of in die pad staan wat nog ‘n ongeluk tot gevolg kan hê. Sit jou noodligte aan en gebruik jou driehoek om aankomende verkeer te waarsku.

Juan Beetge se wenk: feestyd is eet tyd. Gedurende die jaar 2000 is 160 kinders dood nadat hulle verstik het. Meer as 90 persent van die persone wat sterf as gevolg van lugwegobstruksies was kinders onder die ouderdom van vyf jaar, waarvan 65 persent skaars ‘n jaar oud was. John Ramcharan: mense word gereeld deur troeteldiere gebyt, veral kinders.

Leer jou kind vooraf die volgende om bytvoorvalle te voorkom: moenie vreemde honde nader of na hulle of weg van hulle hardloop en gil nie. Vermy oogkontak en moenie honde wat slaap, eet of babatjies het, steur nie.

“Ek hoop elke persoon kan hierdie wenke tot die beste van hul vermoë gebruik om ‘n verskil in ander se lewens te maak. My wens vir elkeen gedurende die feestyd is dae vol vreugde, ‘n lewe vol hoop, ‘n hart vol liefde en vertroue in die mensdom,” sê André Bronkhorst, ER24 Vaal-takbestuurder.

In noodgevalle skakel ER24 by 084 124 of ER24 Vaal-tak by 084 4607011.

Source: vaalweekblad.com