Die wit markies-tent wat op Tjokkerland 1 se sportvelde opgeslaan is, was in ‘n japtrap propvol met ywerige oumas, oupas en ouers wat hulle beste probeer het om so naby as moontlik aan die verhoog te sit.
Grootouers van so ver as Walvisbaai het die langpad na die Vaaldriehoek aangedurf om die kleinspan se ondeunde kinderstreke en manewales op film en in hulle geheue te verewig.
Niks is méér kosbaar nie. Hulle het getiekie draai, gebriekdans en nog vele ander danspassies tot groot vermaak van die gehoor uitgevoer. Dis oomblikke soos dié wat ‘n ieder en ‘n elk vir ewig sal bybly.
‘n Mens se kinders is jou kosbaarste besitting en mens moet hulle koester.
Oumas en oupas is altyd daar om die kleinkinders te bederf, maar dié vertoning was uit en uit die grootste “beloning” waarvoor enige grootouer kon vra.
Bron: vaalweekblad.com