Boererate: Waar of onwaar

Ons almal ken dit: daardie outydse raad en rate wat Ma en Ouma met groot o├½ vir ons as tienermeisies vertel het. Ja, en moenie ons pa’s en oupas vergeet wat ons by tye ook lekker kon bangpraat nie! Maar hoeveel van die eeue-oue gelofies waaraan baie van ons steeds vasklou, is waar en hoeveel is onwaar?

Vaalweekblad het ondersoek gaan doen en hier is kenners se oordeel:

* Moenie op ‘n vol maag swem nie, jy sal spierkrampe kry en verdrink. Wag minstens ‘n uur.
Dis onwaar. Vertering herlei ‘n bietjie van die bloedsirkulasie weg van die spiere af na die verteringstelsel, maar as jy rustig swem, sal daar steeds genoeg suurstof in jou bloed wees om spierkrampe te voorkom.

* Die meeste liggaamshitte ontsnap deur ‘n mens se kop.
Dis onwaar. Slegs sowat 10% hitte word deur die kop verloor. Dit is proporsioneel nie meer as die hitte wat uit enige ander deel van ‘n mens se liggaam ontsnap nie.

* Drink ten minste agt glase water per dag.
Daar is geen wetenskaplike bewys dat so baie water besonder voordelig vir ‘n mens is nie. Wanneer jy water of ander vloeistof drink net wanneer jy dors voel, behoort dit voldoende te wees.

* Voed ‘n verkoue maar honger ‘n koors uit.
Dis onwaar. In albei gevalle moet ‘n mens heelwat vloeistof inneem en gesond eet.

* Jy sal verkoue of “vrotneus” kry as jy met pasgewaste, nat hare in die buitelug uitgaan.
Dis onwaar. ‘n Mens kry verkoue as jy naby-kontak het met ge├»nfekteerde mense.

* Om jou kneukels te knak, veroorsaak artritis.
Dis onwaar. Daar is geen bewyse dat dié gewoonte tot inflammasie van die gewrigte of artritis lei nie.

* Dit verbeter jou sig as jy wortels eet.
Dis waar. Wortels bevat beta carotene wat deur jou lewer omskep word in vitamien A. Dié vitamien bevorder die gesondheid van jou oë se retinale selle.

* Koper-armbande verlig rumatiekpyn
Dis onwaar. Verskeie studies kon geen bewyse vind dat sulke armbande enige uitwerking het nie, hoewel baie mense steeds meen dat dit wel help. Die beterskap lê waarskynlik in jou kop. Dra dit dus gerus maar steeds as dit jou beter laat voel.

* Hou jou kop agteroor om neusbloeding te stop.
Dis onwaar. Sit regop en laat jou kop net effens vooroor sak. Om jou kop agteroor te hou, kan die bloed in jou keel laat afloop en vomering tot gevolg hê, wat die bloeding eerder sal vererger as verbeter.

As jy steeds verkies om Ma en Ouma se raat te volg, moenie alleen voel nie. In ‘n studie wat onlangs in Brittanje gedoen is, is bevind dat 69% moderne mense steeds die oorgelewerde (soms onsinnige!) raat van hul voorouers glo en dat 72% hedendaagse ouers dit vandag steeds so aan hul eie kinders oordra.

Nuusbron: Mooivaal Media – Vaalweekblad