BEKER-BREKERS!

VEREENIGING. –  Die Kaap is weer Hollands nadat die o.21-rugbyspan van Vereeniging-rugbyklub (VRK) Vrydagaand sy bekerdroogte van 10 jaar gebreek het.

Die jong turke is Vrydagaand op sy tuisveld as die Valke Merlin-ligawenner gekroon nadat hy Nigel met 50-3 die moeder van alle rugbylesse gegee het.

Daar bestaan in rugby waarskynlik nie iets soos ‘n perfekte vertoning nie, maar dié ene het beslis aan perfeksie gegrens.

Twee weke gelede het die VRK die soet smaak van die eerste wingerdtrossie geproe, toe sy tweede span as die Valke Merlin-ligakampioen gekroon is. Die sege in tandem met die hele seisoen se bloedsweet het ‘n domino-effek op die klub se selfvertroue gehad. Die grootste kopsprong is met die o.21-span se sege gegee.

Die hardebaarde van Vereeniging het Saterdagmiddag in Orkney dit amper drie uit drie gemaak, toe hy net-net met 28-25 teen die volslae gunsteling Vaal Reefs verloor het.

Ondanks die naelskraapse nederlaag sal die seisoen met die storielyn van ‘n Aspoestertjie-sprokie sorg. ‘n Sukses-verhaal Dit alles aan die vooraand van die klub se 100ste bestaansjaar. En ja daar word groot dinge beplan om die historiese mylpaal van die oudste rugbyklub in die Vaaldriehoek te vier. Hou gerus die spasie dop. Om terug te keer na die o.21-span se vyfster-sege is dit moeilik om ‘n vertrekpunt te kies.

Een ding is verseker – dat die tuisspan vanuit die staanspoor nie ‘n voet verkeerd kon sit nie. Voorlangs het die getemperde ysters die besoekers fyngemaal en agterlangs is die oorvloed besit met vernuf en sekerheid aangewend.

Om individue uit te sonder sal waarskynlik onregverdig wees, maar die vaskopstut “Big Steve” Steenberg en die agsteman Koos Bosman verdien spesiale vermelding vir hulle inklimspel voorlangs. Agterlangs het skrumskakel Pieter Bosman, binnesenter Henry Platt en linkervleuel JJ Blomerus ‘n barshou gespeel.

Blomerus het twee pragtige drieë gedruk en Platt het met sy goeie verspreiding en aanvoeling vir die spel, gewys hy’s bestem vir groter dinge. Die tuisspan het kort na die afskop reeds met 6-0 voorgeloop en rustyd sy voorsprong tot 28-3 gerek. Die besoekers se frustrasie het kort na rustyd oorgeborrel toe een van sy spelers ‘n rooikaart vir ongeoorloofde spel gekry het. Die manne het mekaar daarna “gegroet”. Die wenspan het op die veld binne die reëls sy gesag afgedwing en ‘n verdere 22 onbeantwoorde punte aangeteken. Die tuisspan se wedstrydplan, afwisseling en uitvoering daarvan was onberispelik klinies. Hoewel die fluitjieblaser ook twee geelkaarte vir Vereeniging uitgedeel het, het chaos kort voor die einde van die wedstryd losgebars toe ‘n massa-geveg digby altwee spanne se plaasvervangerbanke losgebars het. Die besoekers se gebrek aan dissipline en totale minagting vir aanvaarde riglyne vir goeie sportmanskap het veel te wens oorgelaat.

Source: vaalweekblad.com