BABA ETHAN-SAAK UITGESTEL

VANDERBIJLPARK. – Die saak waarin die ouers van ‘n 10 maande-oue babaseun wat verlede jaar dood is, na sy dood aangekla is vir kindermishandeling, is uitgestel in die streekhof in Vanderbijlpark sodat die ouers regshulp kan bekom.

Ethan Piet Viljoen (10 maande) is op 2 Augustus 2012 by sy ouers se woning by Palm Court in Vanderbijlpark dood.

Sy ouers, Ashley Anne Jordaan (20) en Trevor Viljoen (20) is na ‘n lang ondersoek in hegtenis geneem nadat die lykskouing getoon het dat Ethan ernstige beserings gehad het wat daarop gedui het dat hy vermoedelik voor sy dood gewelddadig aangerand is. Hy was ook wanvoed en baie ondergewig. Die aanvanklike nadoodse ondersoek het getoon dat die oorsaak van sy dood te wyte was aan ‘n aangebore hartdefek. Die ouers kon tot dusver net vir kindermishandeling aangekla word. Viljoen en Jordaan se eerste baba, ook ’n seuntjie, was net ’n week oud toe hy dood is. Sy dood is destyds beskryf as ’n wiegiedood. Die twee beskuldigdes sal weer op 26 Julie in die streekhof in Vanderbijlpark verskyn.

Bron:  vaalweekblad.com