At vaar goed in Goliat van gat Pampoenfees

VANDERBIJLPARK. – Twee plaaslike pampoenkwekers, Jannie Cilliers en At le Roux, het onlangs uitstekend gevaar in die jaarlikse Goliat van Gat-pampoenfees wat in Silverton, Pretoria gehou is.

Die fees is vir “groot pampoenkwekers” en word deur mense van regoor die land bygewoon. Volgens At was daar selfs mense van sover as Pelgrimsrus wat vanjaar se fees bygewoon het. At van Vanderbijlpark en Jannie van Sonlandpark in Vereeniging was die enigste inwoners van die Vaaldriehoek wat aan die fees deelgeneem het.

At vertel dat die lekkerste uitdaging altyd is om te sien hoe groot en hoe swaar die pampoene kan word.

Jannie het met die 1ste prys weggestap en At spog met drie pryse in die Top 10 naamlik 2de prys, 3de prys en 9de prys. Hy het kontantpryse vir sy 2de en 3de plek gekry.

Die gewig van At se pampoene was 117kg (2de), 76 kg (3de) en 31kg (9de).
Op die vraag wat daarna met die pampoene gebeur het, vertel At: “Die Transvaalse Landbou-unie bied die kompetisie aan en by die inweging vra hulle of jy bereid is om dit te skenk vir liefdadigheid, wat hulle wel doen. Die unie verwerk die pampoene dan en skenk dit vir liefdadigheid aan verskeie organisasies.”

At loop oor van trots, nie net op sy pampoene nie, maar ook sy familie wat hom so ondersteun. Sy stiefseun, Jan Heystek, help met die vervoer-werk van die reuse-groente fees toe.

Op die vraag of hy enige spesiale “versterkmiddels” gebruik om die pampoene te pamperlang, sê hy net reënwater wat hy opvang in dromme, en kompos wat hy self meng. Hy hoef dit nie eens te spuit teen goggas nie.

Bron: vaalweekblad.com